top of page

Gedigte

Ek wens ek was 'n digter

 

Ek wens ek was ‘n digter om  alles te kon verwoord,

My gedagtes is vol denke, maar my pen is soms morsdood,

Ek is deel van die grond en water – die lug, die son en wind

Afrika in my are, ek is hierdie land se kind.

 

Soggens as ek opstaan en dinge mooi bekyk,

Strale van beloftes wat syfer deur my ruit,

Buite hoor ek duiwe, die mossies sit en tjirp,

My boeretroos is warm, my Afrikaner hart bly bid.

 

Hoe lank moet ons nog stil bly, hoe lank moet ons nog swyg?

Hoe lank moet ons nog gedwonge voor ander nasies buig?

Soos ‘n LEEU is hierdie volk, in die velde is hy vry,

Maar sit hom in ‘n hok – weet hy gaan baklei.

 

Hulle sê hou die vrede – watse prys om te betaal?

Die dood van ons geskiedenis, ons mense en ons taal?

Ja dit is waar - God bepaal ons weë en God bepaal ons weg,

Maar Dawid sê in Psalms – Dis God wat my leer veg.

Roepstem Oor Die Water

 

Hierdie is ‘n brief en ‘n gedig, sommer alles so in een,

Vir al my vriende, familie, die Ferreiras en Jannie met die hoepel been,

Vir die wat besluit het om na ander lande, die groot blou see oor te vaar,

Vlugtende vir geweld, misdaad en die ander groot gevaar.

 

Wel, waar sit jy dan nou - so ver weg van jou hart,

Hoor jy dan nie meer die Hadidas wat vlieg oor jou dak?

Die druppels wat kletter teen die ruit in die aand,

Hulle was jou vriende, jou pelle, hulle praat Afrikaans.

 

Praat jou kinders nog die Taal, gaan hulle kinders dan doen?

Al die Dollars en Ponde kan die hartseer net so lank verbloem,

Hulle gaan met vreemdelinge moet trou, hoe gaan jy dit keer?

Wil jy regtig vir jou klein kinders groet met “Hello my dear.”?

 

Sy is so weerloos, so naak – jou tong en jou taal,

Dit is alleen in jou gedagtes, waar haar klanke nog rond dwaal,

Maar soos ‘n bries deur die blare, hoor jy haar fluister roepstem klink,

Dit borrel, dit bruis soos ‘n rivier in jou are – kom terug, kom terug, kom huis toe my kind.

 

 

Babilon se snelweë

 

'n Ewige gewag op die grys van die teer,

Vra jouself - soek jy dan minder of meer?

Want dag na dag word ons in die warboel vasgevang,

Soos muise in 'n doolhof volg ons die listige slang.

 

Wat sal ons dan doen vir 'n blinkende sikkel,

Die fondamente van ons menswees los gaan wikkel?

Alles kruwel, alles wemel hier in die groot Babilon,

Soek almal na hul brokkie geluk onder die son.

 

Die enjins maak geraas en die toeters blêr,

die hitte is te veel, my bestemming te ver,

Maak oop die venster, voel asof ek kook,

Versmoor ek amper in die lorrie se rook.

 

Die mense se gesigte, so vaal van die dwaal,

Elke blik strak voor hom - die hoofweg se taal,

Sien ieder kraak in die gevoelose beton,

Vertel van die mens se hartseer in weelde verblom.

 

bottom of page