top of page

DIE AVONTURE VAN KAPTEIN DIRK DEYZEL EN ZET: DIE JUFFUSIS DEBAKEL – 2014 © J.V van Wyk

VOLWASSE WETENSKAPFIKSIE   (5 382 woorde)

 

Die Blikskottel IV sny deur die leë opening van ruimte soos ʼn grassnyer met stomp lemme oor ʼn vergroeide grasperk. Die metaalrooi bakwerk, ingeduik en beskadig deur veelvuldige botsings met asteroïdes tussen Mars en Jupiter. Die linkerhandse hoofturbine spu dik wit rook in die eindelose leemte uit, en die gekraakte hoofligte flikker aanhoudend aan en af. Ja, dit is glad nie ʼn grasieuse toneel nie, maar vir die insittendes is dié wrak die verskil tussen lewe en dood.

“Hoe ver is hulle agter ons?” vra Kaptein Dirk Deyzel terwyl hy ongemaklik in die loodsstoel rondskuifel.

“Minder as ʼn halwe ligjaar Kaptein, en hulle neem vinnig toe.” Sê Zet sy getroue robot handlanger, geboë voor die vlugkontroles.

Dirk kyk senuweeagtig na een van die monitors wat die beeld agter die skip vertoon. In die verte sien hy die vloot Juffusisse nader beweeg. “Kan die skip nie vinniger nie?”

“Nee Kaptein, ons beweeg reeds teen volle spoed. Jy het verlede maand die ligspoed- versneller verruil vir ʼn halwe blik koffie en ʼn gekrapte Elvis CD.”

“Kyk hier Zet, jy weet so goed soos ek koffie is goud werd in die nege-en-twintigste eeu.”

“Ja, maar dit help nie dat jy dié goud binne twee dae opgedrink het nie.”

Dirk ignoreer die opmerking, kyk weer op die monitor en sien dat hy nou al sy agtervolgers se getalle kan uitmaak. “Zet, daar is dertien van hulle.” En hy val weemoedig agter oor in die stoel. “Ons gaan nooit wegkom nie. Nie in die stuk gemors nie.”

“Nie as ek dit kan help nie. Kaptein. Ek vra permissie om ʼn paar strategiese besluite te maak om ons oorlewing te verseker ”

“Ja, reg so.”

“Dankie Kaptein.” En hy begin sy verchroomde metaal vingers vinnig oor die sleutel bord beweeg. Sy een oog op die Hoofskerm en die ander een op die tru-monitor.

“Rekenaar, ons beweeg tans deur Kwadrant 6 van die Luminar Sterrestelsel. As ek reg kan onthou is hierdie die woning van die Jislaaiks.”

“Affirmatief.” Antwoord ʼn sintetiese vroulike stem.

“Hoe ver is hulle moederplaneet?”

“Teen die spoed waarmee ons nou beweeg is die planeet Jislaaik twee-en-dertig-komma-agt-drie-twee Astronomiese-minute weg.”

“Nee dit gaan nie deug nie. Het hulle nie basisse versprei deur hierdie kwadrant nie?”

ʼn Kort oomblik van stilte. “Die naaste basis is op X65-R, een van Pennoen se agt mane. Twee Astronomiese-minute weg.”

Dirk snak na sy asem. “Het jy nou net Pennoen gesê?”

“Affirmatief.”

“Nee Zet, as Kaptein beveel ek jou nou dadelik om van koers te verander. Daar is nie ʼn manier dat ons Pennoen toe gaan nie.”

“Kaptein, waarvan praat jy? Ons word gejaag deur ʼn hele vloot Juffusisse. Die Jislaaiks is ons enigste uitweg?”

“Ja maar Pennoen?”

“Kaptein, volgens my kalkulasies het jy presies veertien sekondes om ʼn besluit te neem.”

Dirk Deyzel se oë flikker van monitor tot monitor, sweet drup van sy voorkop af. Die sekondes word uitgerek na wat soos ure voel.

“Nou goed dan!” sê Dirk. “Maar Zet, wees voorbereid vir wat vir ons wag op Pennoen. Rekenenaar, stuur onmiddellik ʼn noodsein uit na X65-R.”

“Ek voldoen aan jou versoek, Kaptein.” ʼn Paar sekondes gaan verby. “Kaptein, die sein kan nie gestuur word nie. Ons kommunikasie versending word geblok.”

“Kaptein, ek kan dit bevestig. Ek sien hulle gebruik ʼn sein-blokker.” En hy draai bekommerd om en kyk na Dirk.

“Zet, Hoe lank het ons nog oor voor die Juff–” Maar nog voordat hy sy sin kan klaar maak word die hele vlugdek met ʼn rooi gloed gevul en die nood sirene begin in ʼn lae irriterende toon lui.

“Nood! Nood! Kaptein, ons is sopas in die magneet veld van ʼn Juffusis se skip vasgevang.” Dreun die rekenaar se eentonige stem oor die luidsprekers. “Daar is ook ʼn inkomende oproep van die teenparty, kan ek dit op die hoofskerm plaas?”

Dirk is wit geskrik, maar trek sy vliegpak reg. “Ja, sit hulle maar deur.”

Die hoofskerm flikker vir ʼn paar oomblikke en op die skerm verskyn die mees walglikste figuur. Dit lyk soos ʼn kruis tussen ʼn gorilla en ʼn seekat, die harige tentakels beweeg oor die vet liggaam. Dit het ʼn priesterlike mantel aan en vier reuse oë staar na Dirk en Zet.

Die gedrog maak sy mond oop en die mees aakligste skril klank basuin oor die luidsprekers. Dit klink soos ʼn vark wat besig is om vermoor te word.

“Skreee – eeeeh, aaaahh, eeeeeerrrr, aaaaaak!…”

“Rekenaar, sit die vertaling modus nou dadelik aan! Gou, voordat ons koppe ontplof!” skree Dirk oor die geraas.

“Affirmatief.” En onmiddellik verander die onverstaanbare doodskrete in herkenbare Afrikaanse woorde, nog steeds hoog en skril.

“…En dus is teenstand nutteloos.”

“Jammer, erm – ek het die begin gemis.” Sê Dirk en hy krap half verleë die agterkant van sy kop. “Kan jy oor begin asseblief. Die vertaler was nie aan nie.”

Die Juffusis rol sy massiewe oë en laat sak sy skouers. “Nou goed dan. My naam is Abrolis, Luitenant van hierdie Juffusis vloot. Ons het genoeg vuurkrag om jou en jou patetiese klein ruimteskip in ʼn miljoen stukkies te blaas, so dús is teenstand nutteloos.”

“Baie dankie, maar ek verstaan nie hoekom jy agter ons aankom nie. Ek het niks verkeerd gedoen nie.” Hy haal sy hande onskuldig op in die lug.

Dirk is nie seker nie, maar hy dink Abrolis gee ʼn grynslag. “Niks verkeerd gedoen nie? Wel, kom ek lees jou lys van oortredinge Kaptein Dirk Deyzel. Nommer een: Het jy die Heerser van Juffus, Heer Braamsor, verskriklik beledig en verneder.”

“Wat bedoel jy? Ek het net sy hand probeer skud.”

“Jy raak nie aan ʼn Juffusis se tentakel nie! Tweedens het jy ons heilige asse…” Abrolis sluk swaar. “…opgedrink.”

Dirk skop met sy voet half bedeesd deur die lug. “Erm, kyk ek vlieg al weke rond sonder om ʼn koppie koffie oor my lippe te proe. Terwyl ek deur die Heer Braamsor se paleis loop, sien ek die blik en my nuuskierigheid neem toe oor. Ek maak dit oop en Ha! Daar is dit vol koffie. Ek moet herken, dit het so effe af geproe, maar nou ja, wat nie dood maak nie maak groot.”

“Dit was nie koffie nie! Dit was tien-duisend jaar oue asse, al die magtigste Heersers van Juffus!” Abrolis probeer homself weer in toom kry. “Derdens, het jy arrestasie vermy en gevlug.”

“Ekskuus tog Meneer, maar as ʼn weermag op jou begin vuur met straalgewere, dan maak jy seker dat jy so vinnig as moontlik daar weg kom.”

“Nietemin, is dit my taak om jou te arresteer en terug te neem na Juffus toe, waar jy dan teregestel gaan word?”

“Wat? Maar julle kan nie dit doen nie! Ek het my regte!”

“Ons kan en ons gaan Kaptein, so maak gereed om na ons skip oorgeplaas te word.”

Die skerm flikker en dan verdwyn Abrolis. Onmiddellik is daar ʼn prikkelende sensasie wat oor sy lyf versprei. Dit begin eers onder by sy bene en beweeg dan boontoe na sy middel lyf, arms en uiteindelik sy kop. Elke sel in sy liggaam word getransformeer na digitale vorm en oor die lug met satelliet verbinding na die Juffusis se skip vervoer.

“Neeeee!…” en sy roep verkwyn tot stilte.

* * *

Kaptein Dirk Deyzel lê op ʼn koue metaal vloer. Dit voel asof iemand hom sopas met ʼn honderd-vier-en-dertig ton ruimteskip omgevlieg het. Dit is nie ʼn vreemde gevoel nie, maar die post-oorplasing simptome is nie iets waaraan ʼn mens sommer maklik gewoond kan raak nie. Met moeite maak hy sy oë oop.

Zet lê op ʼn hoop langs hom, daar is geen teken van lewe nie. Die oorplasing het outomaties die veiligheidsmeganisme in werking gestel, en die robot afgeskakel.

Hy probeer sy ledemate beweeg, eers sy bene en dan sy arms. Elke spier in sy lyf voel asof dit van Klaratiese Kristalle gemaak is, die swaarste van al nege-honderd-drie-en-tagtig elemente in die heelal. Na wat soos ʼn ewigheid voel, maak hy dit tot op sy knieë. Die ligte skyn onmoontlik helder en sy oë is op skrefies getrek.

Meteens gaan die metaal skuifdeur in die muur oop en twee reuse, gepantserde Juffusisse loop in.

“Eeeeeh! Aaarrgh! Skreeeh!” bulder die grootste van die twee. Sy harige bruin tentakels sleep amper op die grond. Hy haal ʼn klein metaal voorwerp van sy belt af en druk die knoppie op dit. Onmiddellik verander dit in ʼn langwerpige gaffel. Die kreatuur loop nader aan Dirk en steek hom met die punt. ʼn Ongelooflike hoë elektriese stroom vul sy liggaam en hy slaan amper vooroor bollemakiesie.

Alle pyne en skete dadelik vergete. “Luister hier jou vergroeide seekat , doen dit nog een keer en ek eet jou oom op my volgende seekos-pizza.” Sê Dirk en swaai sy arms vererg deur die lug, maar die Juffusis verstaan nie ʼn woord wat hy sê nie.

“Eerreeeuh! Skroooorgh! Beeeeehaa !” en hy wys met die lang vurk dat Dirk eerste by die deur moet uitloop. Hy staan op, skud sy klere reg en loop kop omhoog uit. Die kleiner Juffusis tel Zet op en slinger hom oor sy skouer.

In kontras met die oorplasings-vertrek is die gange se ligte verdof en met ʼn effense groen gloed gevul. Die vloer is van traliewerk en dus kan hulle ver in die skip in sien. Daar is seker dertig Juffusisse wat by beheer kontroles en monitors staan besig om vinnig met hulle tentakels op die sleutelsborde te tik. Die lug is gevul met ʼn aaklige reuk wat Dirk aan kool en vrot vis laat dink.

Uiteindelik stop hulle voor ʼn vertrek waar die voorste gedeelte heeltemal met rooi laser strale in ʼn sigsaggewyse patroon uitgelê is. Die groot een druk die knoppies op die beheerpaneel en die rooi lasers verdwyn. Weer met ʼn beduie van die skoktoestel beweeg Dirk die sel binne. Zet word op die grond langs hom neer gegooi. Die lasers word weer aangeskakel en hy word in die doodse stilte gelos, elke nou en dan hoor hy die vark-krete van iewers in die skip.

Hy staan op en loop na die rooi laser strale. Versigtig probeer hy verby die laser strale kyk, maar sy neus raak per ongeluk daaraan. BOEM! ʼn Massiewe skok gooi Dirk deur die lug en slinger hom teen die agterste muur vas. ʼn Oomblik lê hy net tjoepstil.

“Eina! Blerrie simpel Juffusisse!” Sukkelend staan hy weer op, die punt van sy neus swart met roet. Hy kyk na Zet. “Kom nou jou blikbrein, jy kan nie die hele dag lê en slaap nie.”

Hy buk af en druk die ‘Aan’ knoppie agter Zet se oor. Onmiddellik begin die warboel metaal beweeg. Een na die ander word die ledemate in regte posisie getrek. Zet sit op die grond, sy oë helder groen terwyl die laai prosesse al die sisteme aan die gang skakel.

“Buenos días, yo el número de modelo de robot Z ocho siete dos nueve siete tres XX. Estoy aquí para mantenerle.” Sê Zet en staar voor hom uit. Dirk trek sy hand ver terug en klap die robot teen die kop.

ʼn Oomblik van stilte en dan, “Bonne journée, je le numéro de modèle robotisé Z huit sept deux neuf sept trois XX. Je suis ici pour vous servir.” Dirk klap weer vir Zet, hierdie keer dat sy kop sommer skeef sit.

“Gebeur elke keer. Dis tyd dat ek die verstellings op jou interne prosesse gaan verander.” Dirk druk weer die ‘Aan’ knoppie en Zet herlaai nog ʼn keer.

“Goeie dag, ek is robot model nommer Z 8 Z 2 3 X X 7 9. Ek is hier tot U diens.” Uiter Zet in ʼn suiwer Afrikaanse metaalagtige stem.

“Dis beter.” Dirk loop na die bankie en neem ʼn sitplek in. Dit vat ʼn paar minute vir Zet se programme om al die nodige drywers en geheue banke te laai.

“Hallo Kaptein. Is ons weer op vakansie op die Laguna Asteroïde?” En hy kyk vraend om hom rond. “Ek onthou hulle het ons in ʼn eenderse sel daar geplaas omdat jy nie die verblyfsfooie kon betaal het nie.”

“Nee nee, ons is in ʼn Juffusis skip, op pad terug na hulle moeder planeet om tot die dood veroordeel te word. Jy het afgeskakel toe ons oorgeplaas word.”

“Wat het met jou neus gebeur?”

“Nee niks, moet nie daaroor bekommer nie. Wat ons wel moet oor dink is hoe om uit hierdie gemors te ontsnap.”

“My geheue bank het sopas aanlyn gegaan en ek onthou alles wat gebeur het.”

“Fantasties, maar wat gaan ons doen?”

Zet skandeer die kamer. “Kaptein, volgens my kalkulasies is daar absoluut geen swakpunt in hierdie sel nie. Ontsnapping is onmoontlik.”

“Ek sit jou sommer weer af.” En hy spring op en begin die sel op en af stap. “Dink Zet, ons moet hier uit kom.”

“Ek sal scenarios herhaaldelik deur my sisteem laat hardloop en kyk of ons met ʼn oplossing vorendag kan kom.”

“Goed.”

ʼn Lang tyd gaan verby in stilte.

“Wel Kaptein, aangesien ons niks het om te doen nie.” Breek Zet se stem uiteindelik die stilte. “Vertel vir my hoekom jy so vreesbevange vir Pennoen is. My geheuebanke het geen informasie oor die planeet nie.”

Teen hierdie tyd sit Dirk op sy boude teen die muur. Hy kyk op na Zet en sy gesig verander na ʼn misterieuse uitdrukking.

“Weet jy nie van Pennoen nie? Wel, laat ek jou dan vertel wat daarop aangaan.” Hy kruis sy bene. “Hulle sê daar is ʼn gevaarlike ras kannibalistiese robotte wat daar woon. Duisende jare gelede het ʼn ruimteskip daar verongeluk. Die oorlewende robotte moes voortbestaan en hulle het hul eie robotte begin bou. Deur die jare het hulle elektriese borde verouder en verroes. Dit het hulle redenerings vermoë belemmer. Nou is hulle bloeddorstige meganiese monsters. Die ‘Blik-Sims’ is wat hulle genoem word. Bedags is dit veilig om op die oppervlak rond te loop, maar snags kom snuffel hulle jou uit. Dit maak nie saak waar jy is nie, hulle vind jou en dan…” Dirk beweeg sy wysvinger oor sy keel.

“En hoe weet ons dat dit nie ʼn wolhaar storie is nie?” vra Zet, sy oë groot van vrees.

“Wel, daar was nog net een ontsnapping, ʼn soldaat in die Galaktiese weermag. En selfs as ʼn opgeleide professioneel, beskryf hy sy ontsnapping as fenomenaal.”

“Sjoe, dit klink na ʼn rowwe planeet daai. Dankie tog ons gaan nie daarnatoe nie.”

“Ja wel Zet, daar of Juffus, ons gaan beide binnekort sterf.

“Jy miskien, maar hulle vernietig nie sommer robotte nie. Ons word net herprogrammeer om lojaal teenoor ons nuwe eienaars te wees. Ons kos heeltemal te veel om net op ʼn ashoop weggegooi te word.”

Dirk skud net sy kop. “Na al die avonture waardeur ek en jy saam was. Ek hoop hulle gebruik jou as ʼn deurstop jou verraaier… jou Jingo.”

“Ag kom nou Kaptein dit–” Maar nog voordat Zet die sin kan klaar maak is daar ʼn ruk reg deur die skip. ʼn Paar sekondes gaan verby en daar is nog ʼn skudding. Dirk en Zet se oë ontmoet mekaar.

Die ligte verdof en dieselfde rooi gloed en irriterende sirene wat vroeër in die Blikskottel IV geloei het vul nou die Juffusis skip. Juffusisse hardloop haastig verby die sel, almal met straalgewere in hul hande. Die skril geluide van die Juffusis taal word al hoe meer.

“Wat dink jy gaan aan Zet?”

“Ek is nie seker nie, maar ek dink hulle skip is besig om aangeval te word.”

“Maar deur wie, ons het nooit die noodsein uitgekry nie.”

“Kaptein so goed soos myne. Hoop net dit is nie diep ruimterowers nie.”

Doodstil sit die twee langs mekaar en luister na die onaardige geluide van Juffusis stemme en straalgeweer lasers.

* * *

Na wat soos ʼn ewigheid voel, hou die geluide van die Juffusisse op. Vreesbevange sit Dirk en Zet op die vloer en wag vir die uitkoms. Hulle hoor voetstappe aangeloop kom oor die tralievloere buite die sel. Dit stop, en ʼn oomblik daarna verdwyn die sigsag laserstrale.

In die sel stap vier swaar gewapende soldate in met blinkende silwer ruimtepakke aan.

“Jislaaik, maar dit lyk nou indrukwekkend.” Sê Dirk.

“Ja jy is reg, ons is die Jislaaiks, en ons is hier om julle te red.” Sê die een met dik blonde hare. Die Jislaaiks lyk soos dood gewone mense, die enigste verskil is dat hulle spits ore, soos feetjies, het.

“Dit is baie gaaf. Maar hoe het julle van ons geweet? Hulle het ʼn sein-blokker gehad.” Vra Zet.

“Dit is waar, maar ons het ʼn sein-blokker-blokker. Ons het julle sein dadelik ontvang.”

ʼn vyfde soldaat loop in. Hierdie een nog met ʼn helm op.

“Generaal!” en al die Jislaaiks staan op aandag.

Die generaal haal sy helm af en die pragtigste bruin lokke val onder sy… onder haar helm uit. Haar gesig is ʼn ligte goudbruin kleur gekroon met die diepste paar seegroen oë. Sy gee ʼn effense skud van die kop en die res van haar hare val oor haar skouers. Sy verteenwoordig die toppunt van die heelal se skoonheid.

Sy kyk na haar soldate en dan na die twee gevangenis. Haar mond val oop. “Jy!” Sê sy, haar oë vernou en die pragtige gelaat word rooi van woede.

“Jy!” Sê Dirk, net so woedend staan hy op en staar haar terug dreigend aan.

“Het ek my manskappe se lewens in gevaar gestel vir jou, Dirk Deyzel?”

“Dit sal so voorkom, Sirena.”

Vinnig draai sy om. “Gooi hulle in ons skip se selle. En smyt sommer ook die sleutel weg!” beveel sy en loop haastig en vererg uit.

“Wat was dit, Kaptein?” Vra Zet.

“Lang storie, Zet. Baie lank.”

Die vier oorblywende soldate rig hulle straalgewere op die twee.

“Julle kom saam met ons.”

Dirk en Zet steek hulle hande in die lug.

“Solank jy nie ʼn skoktoestel het nie, is ek gelukkig.” Antwoord Dirk en loop by die vertrek uit.

* * *

Die Jislaaiks se selle is heeltemal anders as die Juffusisse s’n. Dirk en Zet is vasgegespe aan die muur met elektriese boeie in ʼn helderverligte kamer.

“So Sirena, wat gaan jy met ons doen.” Kaptein Dirk Deyzel se oë gluur die beeldskone vrou voor hom aan.

“Wel, as dit van my afgehang het, dan het ek julle sommer dadelik in die yskoue ruimte uitgestuur, waar jy en jou maatjie vir ewig gevries die heelal sal deur sweef.” Sy glimlag met die gedagte. “Maar ongelukkig is ons Jislaaiks nie moordenaars nie. Nietemin, ek gaan jou en jou makker vir ʼn leeftyd na die Krioelus Myne toe stuur vir harde arbeid.”

“Kan ek ook net iets sê Generaal.” Val Zet hul gesprek in die rede. Beide Dirk en Sirena draai hulle aandag op hom.

“Dit is nou alles goed en wel dat julle een of ander probleem met mekaar het. Maar ek, onskuldige bystander kan seker nie van verwag word om my talente op ʼn planeet soos Krioelus te gaan mors nie. Buitendien, hoe ken julle mekaar en wat het tussen julle gebeur?”

Dirk en Sirena kyk vir mekaar.

“Dit is…”

“Baie lank…” val hulle mekaar in die rede.

“Dames eerste.” Vra Dirk verskoning.

“Van wanneer af geld dit vir jou?” En sy draai haarself vererg na Zet. “Wel kom ek vertel jou vir watse lae maanslak jy werk, Zet.”

Sy loop op en af voor die twee gevangenis, hande agter haar rug. “Ek was agtien en net uit die skool. My ouers het aangedring dat ek Galaktiese-Wet moet gaan leer, maar ek wou niks weet nie. So dus het ek skelmpies myself by die Federasie gaan opteken. Toe hulle uitvind was hulle baie teleurgesteld, maar kon niks aan die situasie doen nie. Die opleiding was op Gorgania, die woestyn planeet van die Bietus sonnestelsel.”

Almal se aandag, selfs die soldate wat haar vergesel, is op haar gevestig.

“Die eerste week was hel, hulle het ons heeltemal probeer breek. Vrouens kry dit erger in die Federasie opleidingskursusse as mans, want die mans glo vroumense sal nie die paal kan haal nie. Daar was ʼn besonderse arrogante en bombastiese instrukteur, Pieter Deelman. Blykbaar was iemand in sy voorgeslag ʼn belangrike man in die weermag sirkels, en dit is ook seker hoekom hy hierdie pos gekry het. Hy het my verneder, uitgejou en ʼn bespotting gemaak van alle vroue. Maar toe op ʼn dag maak daar ʼn uiters sjarmante jong kaptein sy verskyning , Kaptein Dirk Deyzel.” Sy gluur Dirk aan.

“Een oggend met ontbyt toe begin Deelman weer met sy beledigings. Bokkie, vandag gaan ek jou breek, jy gaan maar terug na jou patetiese planeetjie vlug met jou stert tussen jou bene.” Maak sy die growwe stem na.

“Op daardie oomblik gryp Dirk vir Deelman aan die skouer en vertel hom mooi waar hy sy vieslike aanmerkings moet druk. Deelman hou toe nie van die vernedering nie en spring op. Hy gee ʼn swaai met sy regter arm, maar mis. Dirk gebruik hierdie geleentheid om hom teen die grond vas te druk. Deelman, ek waarsku jou…”

Maar Dirk val die vertel van haar storie in die rede en maak die sin klaar. “Praat weer so met haar dan vermoor ek jou.”

Vir ʼn split sekonde smelt haar harde dop en liefde straal uit haar oë, maar nog voordat Zet of die soldate dit raaksien verhard sy weer tot die ongenadige Jislaaik Generaal.

“Ek het hals oor kop vir die aantreklike kaptein geval. Ons het meer en meer tyd saam spandeer, en alhoewel die opleiding nog haglik was, was dit soveel makliker met iemand wat jy lief kon hê. Ek het gedink ons gaan eendag trou, maar toe breek hy my hart. Een aand met ete het hy net verdwyn. Ek het gesoek en gesoek, maar hom nêrens gekry nie. Uiteindelik het ek na my kamer toe gegaan en ʼn Nota op my spieël gevind, in haastige skrif gekrabbel ‘Jammer, maar ons het nie ʼn toekoms saam nie’. ʼn Maand later het die oorloë begin. Nooit weer van hom gehoor nie, net van hom gelees in die koerante.”

“In die koerante?” vra Zet.

Meteens is daar ʼn geweldige ruk deur die skip. Dirk en Zet ruk aan hulle elektriese kettings. Sirena en die res van haar soldate val op die grond neer. Oomblikke later kom ʼn jonger offisier ingehardloop.

“Generaal, ons word aangeval deur die hele Juffusis vloot. Ons is omsingel.” Die vrees op sy gesig duidelik sigbaar.

“Wat? Reg ek is nou dadelik daar.” Sy draai om en hardloop uit die vertrek na die vlugdek toe. “Maak seker die gevangenisse ontsnap nie!”

“Jinne.” Draai Dirk na Zet toe. “Selfs onder soveel druk bly sy asemrowend.”

“Kaptein, jy het my nooit vertel jy was in die Federasie nie.”

Daar is weer ʼn enorme skudding.

“Daar is baie dinge wat jy nie van my weet nie, Zet. Ek was nie altyd ʼn vryskut vragvlieënier nie. Ek het in die Eerste en Tweede Interstellêre oorloë geveg. Ek was die Kaptein van verskeie vegskepe, die vernaamste een ‘Alfa Neptunis’.

Zet se robot mond val oop. “Wat?” Sy oë vernou. “Jy was die Kaptein van die skip wat die hele vloot Orgos uitoorlê het met net ʼn handjie vol vegterskepe?”

“Die einste, maar dit was jare gelede.”

“Kaptein, nou vir wat het jy ons nie uit die dertien Juffusis skepe se greep gered nie?”

“Een oorlog mors met ʼn mens se kop, twee maak jou heeltemal kens. Ek het myself ʼn eed gesweer dat ek nooit weer sal baklei nie, dit is hoekom ek jou toegelaat het om beheer van die situasie te neem.”

“Maar Kaptein, ons gaan vandag sterf as jy nie ons help nie.”

“Ag nonsens, Sirena het dit onder beheer. Hulle gaan nou-nou ons uit hierdie gemors uit kry.”

“Nee Kaptein, my radar tel op dat daar vierhonderd-en-tagtig Juffusis skepe buite is, en net elf Jislaaik vegter skepe… wag tien. Jy is hulle – ons enigste uitweg.”

Dirk dink na oor hierdie situasie. Die skip ruk, skud en ligte flikker aan en af. Na ʼn paar minute breek sy stem die stilte. “Sy sal my nooit die kans gee nie.”

“Soldaat, ek verlang nou dadelik ʼn gehoor met die Generaal.” Sê Zet vir een van die soldate.

“Sy is besig met ʼn oorlog jou blikbrein.”

“Wil jy vandag hierdie aanval oorleef of nie?”

“Erm… ja ek wil, maar–”

“Wel, sê dan vir jou Generaal dat Dirk Deyzel ons uit hierdie gemors sal kan kry.”

Hy dink ʼn oomblik na en verdwyn dan by die deur uit. ʼn Paar minute gaan verby en hy kom weer die kamer in. Hy loop reguit na die beheerpaneel toe en druk ʼn paar knoppies. Die elektriese kettings verdwyn onmiddellik , Dirk en Zet val op die grond neer. Nog ʼn skud, hierdie een harder as al die voriges. Hulle moet aan die mure vasgryp om balans te hou.

“Ons het nie baie tyd oor nie, wys my na die vlugdek toe, gou.”

Hulle hardloop in die gang af verby verskeie deure wat outomaties oop skuif. Uiteindelik arriveer hulle op die vlugdek. Daar is klomp Jislaaiks voor monitors besig om vlug, skerm en wapen data te analiseer. In die middel van die vertrek staan Sirena saam met een van haar getroue adviseurs voor ʼn rooi flikkerende beheerkontrole. Haastig loop Dirk na hulle toe.

“Ons gaan nooit hier uitkom nie.” Sê Sirena vir Dirk.

“Generaal, as ek mag…” Sê een van die adviseurs.

“Ja jy mag.” Val Dirk hom in die rede. “Jy mag maar vir my ʼn koppie koffie gaan maak. Twee suiker en melk. En maak gou.” Eers dink die man dat hy speel.

“Gaan haal vir hom ʼn koppie koffie Adlam.” Sê Sirena

ʼn Oomblik van stilte, maar hy draai om en verlaat die vlugdek.”

“Zet, hoeveel skepe het ons oor?”

“Nege, Kaptein.”

“Reg, Sirena kan jy op die hoofskerm die uitleg van hulle aanval vertoon.”

“Ja ek kan.” En sy tik op die raak-skerm voor haar.”

Die hele Juffusis vloot verskyn as kolletjies op die hoofskerm.

Hy bestudeer die toneel vir ʼn paar oomblikke. “Daar, daar sien jy dit.” En hy wys na die warboel van skepe. “Sien julle die patroon?”

Almal staar blanko voor hulle uit.

“Lyk net soos ʼn deurmekaar spul Dirk.” Antwoord Sirena.

“Nee, kyk. Hierdie gedeelte van hulle formasie wil ons aanval, maar op dieselfde oomblik beskerm hulle iets in daardie gedeelte.” En hy beduie na die middel gedeelte van die skerm.

“Toemaar, as julle dit nie kan sien nie is Zet duidelik nie die enigste blikbrein op die skip nie. Daar is beslis ʼn kans, alhoewel dit baie klein is.”

Die adviseur kom in met ʼn koppie koffie en gee dit vir Dirk.

“Dankie ou maat.” En hy draai na die generaal. “Onthou jy nog die Federasie se formasies?”

“Ja ek doen.”

“Goed so, vertel jou skepe om ʼn Pyl Nege-Twee-Drie te vorm.”

Sy tik weer op die sleutelbord en gee die bevel oor na haar manskappe.

Op die skerm beweeg die Jislaaiks kolletjies in formasie in.

“Reg, wat ons gaan doen is…” en hy leun oor en fluister iets in haar oor.

Haar oë rek.

“Maar Dirk, dit gaan nooit–”

“Dit gaan Sirena, vertrou my.” Hy neem ʼn groot sluk van sy koffie, loop oor na die loods se stoel en neem sy posisie in. Outomaties kom daar ʼn hefbome en knoppies uit die armleunings – die skip se beheerkontroles. Hy sit ʼn gehoor toestel oor sy kop sodat hy met die ander skepe kan kommunikeer.

“Zet, jy beter jou veiligheidsgordel aansit. Hierdie gaan ʼn rowwe rit wees.” En hy gee ʼn laggie. Almal beweeg haastig na ʼn sitplek en maak hulle gordels vas.

“Rekenaar, haal die formasie van hoofskerm af.” Dadelik flikker die hoofskerm en die beeld verander na laserstrale wat heen en weer oor die skerm flits. ʼn Magdom skepe lê voor hulle. Hy plaas sy hande op die kontroles, en haal diep asem. Sy vinger huiwer ʼn oomblik oor die versneller.

“Vloot doen net soos wat ek julle sê.” Hy druk nie knoppie en dadelik skiet al nege vegters soos ʼn pyl vorentoe.

Die Juffusisse weet nie wat tref hulle nie. Nooit sou hulle indink dat só ʼn handjievol Jislaaik skepe ʼn aanval sou loots nie. Soos ʼn laser uit ʼn straalgeweer se loop skiet hulle op die kern van die aanvallers af.

Lasers skiet heen en weer, maar die Jislaaks trek nie eenkeer die sneller nie. Met Kaptein Dirk Deyzel aan die voorkant, maneuver hulle deur die warboel vyande. Hulle vlieg oor en onder deur skepe. Twee van hulle vegters word afgeskiet. Maar hulle bly nader en nader aan die Juffusis se sensitiewe senterpunt beweeg.

Uit paniek begin die Juffusis skepe onbeheerd agter die pyl Jislaaiks aan te skiet. Omdat hulle teiken so klein is begin hulle mekaar in die kruisvuur uit te haal.

Kaptein Dirk Deyzel en sy groep beweeg soos ʼn slang tot in hartjie van hulle vyand se formasie, en pyl reguit op die moederskip af.

“Ons het nie genoeg vuurkrag om die moederskip uit te haal nie, Kaptein.” Sê ʼn senuweeagtige stem oor Dirk se gehoortoestel.

“Moet nie bekommer nie, ons gaan nie ʼn sneller hoef te trek nie.”

Elke Juffusis skip probeer om die Jislaaiks af te skiet, en Dirk gebruik dit as sy wapen. Uiteindelik is hulle by die moederskip en hy gee bevele oor die mikrofoon.

Die Jislaaiks se pyl formasie breek op en hulle begin sirkels rondom die moederskip te vlieg. Hulle is versigtig om nie in mekaar vas te vlieg nie en ook nie deur ʼn laser straal getref te word nie. ʼn Jislaaik skip word afgeskiet, dan nog een en dan nog een. Op die einde bly daar net vier skepe oor, maar die vuurkrag was genoeg en die moederskip slaan aan die brand. Die aanvallers besef dadelik wat hulle gedoen het. Hulle het hulle eie heerser se skip aangeval. Die lasers strale hou onmiddellik op.

Dirk gebruik hierdie geleentheid om te ontsnap. Hulle is reeds op die uiterste rand van die Juffusis vloot toe die moederskip ontplof. Die slag is so groot dat dit helfte van die vloot uithaal. Die res van die Juffusisse is nog steeds te verbaas om enige iets te doen. Die vegter zoem die ruimte in, weg van die gevaar.

Die vegterskip het nie ongedeerd die anderkant uitgekom nie. Een van die turbines is raakgeskiet en die vaartuig hinkepink smeulend deur die oop ruimte.

“Ons het dit gemaak!” juig Zet.

“Nie heeltemal nie, Zet. Ons het ʼn klomp manne verloor.” Hy maak sy gordel los en staan op. Die res volg hom.

“Dankie Dirk, jy het ons lewe gered.” Sê Sirena en kyk diep in sy oë. “Hoekom het jy daardie aand uit my lewe verdwyn?”

“My gevoelens het te veel geraak om te hanteer. Hulle het my laat weet dat die oorlog begin het en my ʼn pos as kaptein op een van die vegterskepe aangebied. Ek wou jou nie seermaak en aan ʼn lyntjie hou nie, Sirena.”

“Maar die brief op my spieël het soveel meer skade berokken.”

“Ek besef dit nou. Ek moes nooit gegaan het nie. Ek is jammer.” Hy gryp haar in sy arms en gee ʼn diep, innige soen. Sy smelt in sy arms.

“Aandag! Aandag!” Lui die skipsrekenaar se stem oor die luidsprekers. “Skip is te erg beskadig ons gaan ʼn noodlanding moet maak.”

Sirena snap uit haar towerspreek. “Rekenaar, waar gaan ons ʼn landing kan maak.”

“Generaal, die enigste plek wat ons nou kan land is Pennoen.”

Dirk se oë rek. Almal hardloop na hulle sitplekke toe en sit weer hulle gordels aan. Die planeet se beeld doem op die hoofskerm. Dit word al hoe groter en groter, totdat hulle in die atmosfeer in beweeg. Die vlugdek skud heen en weer. Na wat soos ʼn ewigheid voel tref hulle die oppervlak van Pennoen. Almal skud op en af en ten laaste kom hulle tot stilstand.

Dirk en Sirena kyk of almal dit oorleef het. Dit lyk so. Hulle staan op.

“Rekenaar, vertoon die omgewing op die hoofskerm.”

Die skerm flikker en dan wys dit ʼn somber toneel. ʼn Dik vergroeide oerwoud met bome honderde meters hoog. Snaakse geluide eggo deur die luidsprekers. Eweskielik is daar ʼn oorverdowende brul wat hulle ore laat tuit en die bome skud heen en weer soos iets massief op hulle afbeweeg kom.

“Kaptein, ek dink ons is in die moeilikheid.” Sê Zet.

bottom of page